
=====================================================================
Gehegtheid aan taal moet opnuut geskep word. (AV 6:4)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Gehegtheid aan taal moet opnuut geskep word

  Sal die voortbestaan en groei van tale in 'n nuwe millennium net deur volkome nuwe faktore bepaal word ? Nee, s Jaap Steyn. IEMAND het 
onlangs in 'n Internet "taalgesprek" oor die toekoms van Afrikaans die volgende interessante opmerking gemaak: "Die dae is verby dat ons 
uit die verlede gaan leer. Met die elektroniese revolusie (veral die Internet) en die einde van die Koue Oorlog gaan dinge heel anders 
verloop as in die verlede. Die nuwe eeu, ja die nuwe millennium, gaan wesentlik anders wees as die voriges. En die groot verskil gaan wees 
dat elke individu op hierdie aarde betrokke kan en gaan wees by die wreld se toekoms."

Dat die nuwe eeu en millennium "wesentlik anders" gaan wees, is waar. Dit kan mens egter van elke eeu s. Maar is die tyd werklik verby dat 
ons uit die verlede kan leer? Met ander woorde: gaan heeltemal ander prosesse in die toekoms werksaam wees en sal net volkome nuwe faktore 
die voortbestaan en groei van tale bepaal?

Moet ons dus vergeet dat tale se lotgevalle benvloed is deur militre, politieke en ekonomiese mag, kulturele aantrekkingskrag, 
sprekersgetalle, die taallojaliteit van die taalgemeenskap, taalgemengde huwelike en ander verbindtenisse, of die fisieke omgewing van die 
sprekers?

Die antwoord is 'n prosaese maar nugtere Nee! Nuwe prosesse en faktore sal bykom en ou bekendes gaan miskien 'n ander klem kry of in nuwe 
vorme voorkom, maar hulle gaan minder of meer meedonloos werksaam bly -- meedonloos veral vir die kleinste en die swakste tale. 
Natuurrampe en mensgemaakte katastrofes kan soos voorheen hul tol eis aan menselewens, tale en kulture. Individue het geen inspraak daarin 
nie en is meestal passief daarby betrokke.

In di verband moet mens dink aan die voorspelling van gesaghebbende weerkundiges dat die westelike deel van Suid-Afrika die ergste gaan ly 
onder die moontlike verdroging en verhitting van ons wrelddeel. Dit l voor die hand dat dit 'n uitwerking kan h op die grootte van die 
bevolking in di geweste, en dus die aantal sprekers in die mees Afrikaanse deel van die republiek.

Maar daarmee wil ek nie soos die Prediker van die Ou Testament s dat daar niks nuuts onder die son is nie. Die "elektroniese revolusie" is 
'n werklikheid.

Dit het aan Afrikaans aan die einde van die millennium 'n nuwe geleentheid gebied in die vorm van die Afrikaanse TV-kanaal kykNet. Dit is 
een van die positiefste ontwikkelings in 'n lang tyd, hoewel kykNet voorlopig net te kyk sal wees deur mense wat dit kan bekostig.

Die Internet, weer, bied moontlikhede vir kontak met die tienduisende of miskien honderdduisende Afrikaners in diaspora. Hoeveel Afrikaners 
daar in die buiteland is, is onbekend. 'n Kerkblad het onlangs die aantal jong blankes in die buiteland op ongeveer 'n halfmiljoen geskat. 
Of die skatting korrek is, weet mens nie. Hoeveel van di mense Afrikaans is, weet mens ewe min. Maar dit kan wees dat 'n demografiese ramp 
met die omvang (maar sonder die lyding en die heroek) van die Anglo-Boereoorlog voorl.

Party van die jong uitwykelinge is weg ter wille van die avontuur, of om ondervinding op te doen. Baie het gegaan omdat die lewe in Suid-
Afrika onhoudbaar geword het of omdat hulle nie vir hulle 'n gelukkige toekoms kon indink nie. In hul eie land verwerp hul regering en die 
sakesektor hulle weens hul kleur, in die buiteland word hulle dikwels met ope arms verwelkom oor hul bekwaamheid en goeie geaardheid.

Om watter redes die jong Afrikaners ook al emigreer, die gevolge daarvan is 'n dreigende katastrofe vir Afrikaans. Emigrante gaan veral na 
Engelssprekende lande. Normaalweg sal hulle, veral as hulle met nie-Afrikaanstaliges getroud is, hul kinders na skole van daardie lande 
stuur. Op groot skaal kan daar dus 'n herhaling wees van die toestand wat in Johannesburg bestaan het voordat daar Afrikaanse skole was. 
Ds. Wm. Nicol,lank predikant in Johannesburg, het in 1942 ges: "As ons terugdink aan die jare van 1900 tot 1921, en ons vra waar is die 
jong Afrikaners wat Johannesburg in daardie jare opgelewer het, dan moet ons erken dat hulle vir ons verdwyn het. Ek het 25 jaar lank in 
Johannesburg gesoek na daardie kinders. Met 'n paar uitsonderings is hulle vir ons verlore. Hulle wil niks met ons te doen h nie. In 
Bloemfontein staan 'n monument vir die 26 000 vroue en kinders wat in die Engelse oorlog verlore is. Ons behoort 'n monument op te rig vir 
die 50 000 kinders wat hier in Johannesburg in daardie tyd verlore gegaan het. Dit is 'n tragedie, die diefstal van 'n mensegeslag."

Sal die Internet 'n herhaling van so 'n tragedie onder die talle Afrikaanstaliges in die buiteland kan voorkom? Onbeperk is die 
moontlikhede nie -- maar die moontlikhede is selfs in di stadium indrukwekkend.

Veral bied die Internet aan die emigrante die kosbare geleentheid om gereeld Afrikaans te lees en te skryf as hulle dit wil doen. Dit bied 
ook die moontlikheid aan individue en instellings om inligting aan hul emigrantevriende en -familie te verstrek en dalk indirek 
taalgetrouheid by hulle te versterk.

Daar is selfs die moontlikheid van bykomende onderwys aan emigrantegesinne wat rekening hou met familie in Suid-Afrika, besoeke of selfs 'n 
terugkeer na die eenmaal geliefde land. Die feit dat 'n groep Afrikaners in Nieu-Seeland probeer om Afrikaans as 'n skoolvak in een of twee 
skole ingestel te kry, getuig dat die gehegtheid aan die taal en sy mense ten minste by party lede van die eerste geslag emigrante nie 
verlore geraak het nie.

Dit sou egter kortsigtig wees om die hoop vir die toekoms net op die kuberruimte te bou en die geografiese ruimte en sy instellings en 
ondernemings gering te skat. Noodsaaklik is, soos in die verlede, werkgeleentheid en onderwys in Afrikaans. Trouens, as mense hul eie taal 
nie leer lees en skryf nie, verloor hulle dikwels ook die vermo om doeltreffend daarin te kommunikeer, of dit in briewe is of oor die 
Internet. Baie 19de-eeuse Afrikaners in die Kaapkolonie het noodgedwonge in Engels aan mekaar geskryf omdat hul skooltaal Engels was.

Die noodsaak van instellings en ondernemings met Afrikaans as voertaal is nie minder noodsaaklik as in die verlede nie. In di opsig is 
daar enkele planne, soos Hermann Giliomee s'n van twee Afrikaanse universiteite. Daar is ook die idee van territoriale entiteite en alles 
wat dit aan werkgeleentheid kan meebring.

'n Klein bietjie vordering is daar wel, maar niks skouspelagtigs nie. Die Afrikaanse gemeenskap is gedemoraliseerd, verward, verdeeld. 
Gehegtheid aan die eie taal en sy mense is in geen meertalige land vanselfsprekend nie. Naspers-voorsitter Ton Vosloo het onlangs ges: "As 
jy as sakeman vandag met 'n kulturele hoed gaan aanklop by van huis uit Afrikaanse instellings, dan kry jy 'n negatiewe reaksie op alles 
wat te doen het met Afrikaans. Daardie mense moet terugkom na hul wortels."

Om sulke mense terug te bring, sal vir Afrikaanse meningsvormers een van die grootste uitdagings van die nuwe eeu wees. Hulle sal weer 
gehegtheid aan die taal en sy mense moet skep en 'n vorm van nasionalisme moet aankweek. Afrikanernasionalisme is vir baie meningsvormers 
wel 'n vloekwoord, maar in baie opsigte kyk hulle met oogklappe daarna, en vergeet hulle dat nasionalisme hier en elders baie vorme kan 
aanneem. Ook dat dit die verdedigende nasionalisme van n die Anglo-Boereoorlog was wat Afrikaans gered het.

Is voortbestaan en groei moontlik sonder veel mag, sonder groot getalle n daarby nog sonder enige nasionale gevoel? Dis te betwyfel. 'n 
Gemeenskap kan getalle en mag nie optower uit niks nie. Maar die getrouheid, geesdrif, offervaardigheid en werksaamhede waartoe 'n gesonde 
nasionalisme kan lei, en wat Afrikaanstaliges kan help om nuwe bestaansvorme te skep, is iets wat doelgerig aangekweek moet word. Prof. J. 
C. Steyn is spesiale professor aan die Departement Afrikaans, Nederlands en Kommunikasie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av642.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Desember 1999 /// Feeswense (AV 6:4) /// Gehegtheid aan taal moet opnuut 
geskep word. (AV 6:4) /// Bokke (AV 6:4) /// Afrikaans reik uit na ander gemeenskappe (AV 6:4) /// Hulle laat selfvertroue en aanleg blom 
(AV 6:4) /// Voorsitters (AV 6:4) /// Om saam te neem vir die 21ste eeu (AV 6:4) /// Berese en gelese webwerf (AV 6:4) /// 'Ons baklei om 
Afrikaans relevant te hou' (AV 6:4) /// Aanwins vir die tweedetaaldosent (AV 6:4) /// Ly die Afrikaanse letterkunde aan J2K? (AV 6:4) /// 
Afrikaans gaan met lus skool! (AV 6:4) /// Moedertaal doen flinke WWW (AV 6:4) /// 'n Kaapse skaap (AV 6:4) /// Regering en Taalklousule 
(AV 6:4) /// Die tas (AV 6:4) /// Dit gaan goed met die WAT (AV 6:4) /// Hier word woorde gevier (AV 6:4) /// Ver van die einde aan ons 
woorde (AV 6:4) /// Jong skrywers word besiel en geleer (AV 6:4) /// Afrikaans in Namibi: die voor- en teenspoed (AV 6:4) /// Slaggate vir 
Afrikaans op skool (AV 6:4) /// Te vet (AV 6:4) /// Afrikaans in spreekkamer en by siekbed (AV 6:4) /// Multikulturaliteit gaan groot rol 
speel (AV 6:4) /// Besoek aan Ratanga pretpark (AV 6:4) /// Afrikaanse taalkunde in Belgi bespreek (AV 6:4) /// Skep 'n ware paradys vir 
boeke! (AV 6:4) /// Die noodlot (AV 6:4) ///

